E-posElektroniese pos (E-pos, soms ook vonkpos) is 'n metode om boodskappe met behulp van elektroniese toestelle te stuur en te ontvang. Dit is in die laat-20ste eeu beskou as die digitale weergawe van, of eweknie van, pos (dus e- + pos). E-pos is 'n alomteenwoordige en baie wyd gebruikte kommunikasiemedium; in huidige gebruik word 'n e-posadres dikwels as 'n basiese en noodsaaklike deel van baie prosesse in besigheid, handel, regering, onderwys, vermaak en ander sfere van die daaglikse lewe in die meeste lande behandel. E-pos het al voor die Internet bestaan en word al sedert die 1960's gebruik. E-pos werk oor rekenaarnetwerke, hoofsaaklik die internet, en ook plaaslike area netwerke (LAN). Vandag se e-posstelsels is gebaseer op 'n stoor-en-stuur-model. E-pos-bedieners aanvaar, stuur aan, lewer en stoor boodskappe. Daar word nie van die gebruikers of hul rekenaars vereis om gelyktydig aanlyn te wees nie; hulle moet koppel, gewoonlik aan 'n posbediener of 'n webpos-koppelvlak om boodskappe te stuur, te ontvang, of om dit af te laai. Oorspronklik 'n ASCII-tekskommunikasiemedium, is internet-e-pos uitgebrei deur Multipurpose Internet Mail Extensions (MIME) om teks in ander karakterstelle en multimedia-inhoudaanhegsels te dra. Internasionale e-pos, met geïnternasionaliseerde e-posadresse wat UTF-8 gebruik, is gestandaardiseer, maar nie algemeen aangeneem nie.[1][2] GeskiedenisRekenaargebaseerde boodskapuitruiling tussen gebruikers van dieselfde stelsel het met die begin van tyddeling (time-sharing) moontlik geraak, met 'n noemenswaardige gebruik deur die Massachusetts Institute of Technology (MIT) se Compatible Time-Sharing System (CTSS)-projek in 1965.[3] Die meeste vroeë hoofraamrekenaarstelsels en minirekenaars het op 'n eenderse wyse ontwikkel, maar het oor die algemeen oor onverenigbare e-postoepassings beskik. In 1971 is die eerste ARPANET-netwerk e-pos gestuur wat die nou bekende adressintaks met die '@'-simbool bekendgestel het om die versender se stelseladres aan te dui.[4] Deur 'n reeks Request for Comments (RFC's) is konvensies vir die stuur van posboodskappe oor die Lêeroordragprotokol verfyn. Privaat elektroniese posstelsels het gou begin ontstaan. IBM, CompuServe en Xerox het in die 1970's interne posstelsels gebruik; CompuServe het 'n kommersiële binnekantoorposproduk in 1978 aan IBM en vanaf 1981 aan Xerox verkoop.[nb 1][5][6][7] DEC se ALL-IN-1 en Hewlett-Packard se HPMAIL (later HP DeskManager) is in 1982 vrygestel; ontwikkelingswerk aan eersgenoemde het in die laat 1970's begin en laasgenoemde het die wêreld se grootste verkope-e-posstelsel geword.[8][9] Die Simple Mail Transfer Protocol (SMTP) is in 1983 op die ARPANET geïmplementeer. LAN e-posstelsels het in die middel 1980's ontstaan. Vir 'n tyd in die laat 1980's en vroeë 1990's het dit gelyk óf 'n eie kommersiële stelsel óf die X.400 e-posstelsel, waarskynlik deel van die Government Open Systems Interconnection Profile (GOSIP), sou oorheers. Sodra die finale beperkings op die vervoer van kommersiële verkeer oor die internet egter in 1995 geëindig het,[10][11] het 'n kombinasie van faktore die huidige internetpakket van SMTP, POP3 en IMAP e-posprotokolle die standaard gemaak (sien Protokoloorloë).[12][13] Notas
Verwysings
Eksterne skakels
|