Michael Fassbender (geb. 2 April 1977 in Heidelberg, Duitsland) is ’n Iers-Duitse akteur. Van sy beste rolle sluit in lt. Archie Hicox in Inglourious Basterds (2009), Magneto in die superheldfliek X-Men: First Class (2011), David in die wetenskapsfiksieprentPrometheus (2012) en die slawe-eienaar Edwin Epps in 12 Years a Slave (2013). Laasgenoemde is ’n historiese drama waarvoor hy in 2014 ’n Oscar-benoeming ontvang het vir beste manlike byspeler. Fassbender het in 2014 sy rol as Magneto hervat in X-Men: Days of Future Past en sal in 2015 werk aan Assassin's Creed.
Fassbender het ook gespeel in 300 (2007), Fish Tank (2009), Jane Eyre (2011), A Dangerous Method (2011), Hunger (2008) Shame (2011). Vir sy rol in Shame het hy in 2011 die Volpi-beker gewen as beste akteur op die Venesiese Rolprentfees en is hy benoem vir ’n Golden Globe en ’n Bafta.
Fassbender en sy ouer suster, Catherine, het somervakansies in Duitsland deurgebring en hy praat Duits vlot.[3] Hy was 17 jaar oud toe hy besef hy wil akteur word nadat hy in ’n toneelstuk deur Donie Courtney gespeel het. Op 19 het hy na Londen getrek waar hy vir ’n ruk aan die Drama Centre London studeer het. Hy het die sentrum verlaat en saam met die Oxford Stage Company gereis met die toneelstuk Three Sisters.[4]
Loopbaan
Vroeë werk
Fassbender het eers die rol van Burton "Pat" Christenson vertolk in Tom Hanks en Steven Spielberg se bekroonde TV-minireeks Band of Brothers.[5] Hy het ook in in albei reekse van Hex gespeel.
in 2003 het hy in ’n radioreeks van Dracula gespeel en in 2006 was hy tydens die Edinburg-fees in Allegiance, ’n toneelstuk deur Mary Kenny.[6] Daarby was hy die vervaardiger, regisseur en ’n akteur van die verhoogweergawe van Quentin Tarantino se Reservoir Dogs.[5]
In 2007 het hy in die rolprent Angel gespeel (Britse titel: The Real Life of Angel Deverell), oor die lewe van ’n eksentrieke jong skrywer. Hy het daarna ’n klein rol gehad in Wedding Belles, waarin hy met ’n Skotse aksent praat.
Sukses
In 2006 het Fassbender die rol van ’n jong Startaanse vegter gespeel in die rolprent 300, ’n fantasie-aksiedrama onder regie van Zack Snyder. Die prent was ’n kommersiële sukses.[7]
As voorbereiding vir sy rol as ’n Ierse gevangene in die regisseur Steve McQueen se 2008-rolprent Hunger, het Fassbender op ’n kitsdieet gegaan van net 600 kalorieë per dag. Hy het ’n British Independent Film Award vir sy spel gewen.[8]
’n Jaar ná dié suksesvolle prent het hy in Quentin Tarantino se Inglourious Basterds en in Andrea Arnold se Fish Tank gespeel. Albei prente, sowel as sy toneelspel, het lof gekry. In 2010 het Fassbender in Jonah Hex, ’n western, verskyn.[9] Hy het ook in die oorlogsriller Centurion[10] en in Joel Schumacher se Blood Creek gespeel.
In die 2011-prent Jane Eyre het hy die rol van Edward Rochester vertolk.[11]
Fassbender het Magneto gespeel in die superheld-sukses X-Men: First Class en dit het hom ’n gewilde ster gemaak. In 2011 het hy in A Dangerous Method van die regisseur David Cronenberg die rol van die Switserse psigiater Carl Jung vertolk. Die première was op die Venesiaanse Rolprentfees van 2011. Hy was ook ’n man in sy dertigs wat ’n stryd voer teen seksuele verslawing in Shame, wat op dieselfde fees sy première gehad het. Daarvoor het hy ’n Volpi-beker gewen vir beste akteur.[12] Fassbender was ’n ernstige aanspraakmaker op ’n Oscar vir dié rol, maar is nie benoem nie. Volgens verskeie bronne het sy naaktonele van voor en sy uitbeelding van sekssituasies kiesers geïnspireer "om te fantaseer en nie te stem nie".[13][14] Fassbender het lof ontvang vir sy spel en is benoem vir ’n Golden Globe en Bafta.
In 2012 het hy verskyn in Haywire, ’n aksieriller,[9] en in die wetenskapsfiksieprent Prometheus. Hy het in 2013 die titelrol gespeel in The Counselor, met Ridley Scott as regisseur.[15][16] In dieselfde jaar het hy in 12 Years a Slave gespeel, wat sy derde prent onder regie van die regisseur Steve McQueen was. Vir sy uitbeelding van Edwin Epps is hy in 2014 vir ’n Oscar vir beste manlike byspeler benoem.[17][18]
Persoonlike lewe
Fassbender woon die afgelope 17 jaar in Londen. Hy speel in Britse en Amerikaanse rolprente en besoek Los Angeles in Kalifornië dus gereeld. Hy praat Duits en het al gesê hy sou graag in ’n Duitse prent of toneelstuk wou speel.[19]
↑ 2,02,1"Blood, Sweat, Tears". The Irish Times (in Engels). 5 April 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Oktober 2012. Besoek op 4 Junie 2011.
↑McClintock, Pamela (18 Januarie 2012). "Fassbender on Fire". The Hollywood Reporter (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Januarie 2015. Besoek op 26 Desember 2013.