Die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2019 is 'n algemene verkiesing wat op 8 Mei 2019[1] in Suid-Afrika plaasgevind het. Dit was die sesde volledig-demokratiese verkiesing sedert die einde van apartheid in 1994.
Huidige president Cyril Ramaphosa het die regerende African National Congress gelei, terwyl dié party probeer het om sy meerderheidsstatus te behou en Ramaphosa 'n volle ampstermyn as president te verseker. Sy voorganger, Jacob Zuma, het op 14 Februarie 2018 as president bedank en kon nie vir 'n derde termyn in die amp aanbly nie omdat die Grondwet van Suid-Afrika 'n president beperk tot 'n maksimum van twee vyfjaartermyne.
Die verkiesing van die Nasionale Vergadering is gewen deur die regerende ANC, maar met 'n verminderde meerderheid van 57,50%, teenoor die 62,15% behaal in die algemene verkiesing van 2014. Dit was ook die ANC se laagste stemaandeel sedert die einde van apartheid in 1994. Die amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), se stemaandeel het van 22,23% tot 20,77% gedaal, terwyl die teenkapitalistiese Economic Freedom Fighters aansienlik gegroei het, van 6,35% tot 10,79%. Die Vryheidsfront Plus se steun het ook gegroei van 0,9% tot 2,38%, wat die hoogste stemaandeel vir die party is sedert 1994.
Agt van die nege provinsiale wetgewers is deur die ANC gewen. Die EFF het sy posisie as amptelike opposisie in Limpopo en Noordwes behou, terwyl die party die Demokratiese Alliansie in Mpumalanga as amptelike opposisie vervang het. Die DA het 'n tweede plek behaal in vyf provinsies wat deur die ANC gewen is. In KwaZulu-Natal het die Inkatha Vryheidsparty die DA as amptelike opposisie vir die eerste keer sedert 2014 vervang en tot 3,88% steun op nasionale vlak gegroei. In die Wes-Kaap, die enigste provinsie wat nie deur die ANC gewen is nie, het die DA se steun van 59,38% tot 55,45% gedaal.
Agtergrond
Volgens die Grondwet van Suid-Afrika moet 'n verkiesing minstens elke vyf jaar plaasvind. Die doel van die verkiesing is om 'n nuwe Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers te verkies. Die Nasionale Vergadering bestaan uit 400 lede wat deur eweredige verteenwoordiging verkies word en wat op hulle beurt die president van die land verkies. Die 2019-verkiesing is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika behartig.
Deelnemende partye
Nasionaal
Die volgende lys van 48 partye het aan die algemene verkiesing van 2019 deelneem, en is deur die OVK op 20 Maart 2019 bekend gestel – 'n aansienlike vermeerdering teenoor die 26 partye wat in die 2014 verkiesing op nasionale vlak deelgeneem het. Partye word gelys in die volgorde waarin hulle op die stembrief verskyn het.[2]
Zenzeleni Progressive Movement (Gauteng, Mpumalanga)
Verkiesingsveldtog fokuspunte
Korrupsie
Korrupsie binne die regering en ondernemings in staatsbesit was 'n beduidende verkiesingsvraagstuk met al drie die grootste partye wat oor die kwessie steunwerwing doen.[3][4] Die ANC het belowe om korrupsie binne die regering en sy eie party te beveg[3][4], terwyl dit ook stel dat dit die Zondo-kommissie van ondersoek ingestel het in staatskaping.[5]
Die DA wil 'n standaard 15-jaar tronkstraf oplê vir enigeen wat gevang is vir korrupsie en 'n nuwe teenkorrupsie-eenheid in die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) in te stel om politici en regeringsamptenare wat by wangedrag betrokke is, te ondersoek. Die EFF stel voor om die grondwet te verander om die Nasionale Vervolgingsgesag aan die Parlement, in plaas van die Nasionale Regering, aanspreeklik te maak.[6]
Grondhervorming
Grondhervorming was ook 'n belangrike veldtogskwessie waarop die drie grootste politieke partye gefokus het. Die ANC het belowe om grond herverdeling te versnel deur onteiening op 'n manier wat nie voedselveiligheid negatief sal beïnvloed nie. Die EFF-veldtog vir staatsbesit oor alle grond en die afskaffing van huurgeld terwyl die DA veldtog het om eiendomsregte te versterk, maar terselfdertyd die implementering van 'n grondhervormingsprogram wat toegang tot grondbesit verhoog.[3][4] Die Vryheidsfront Plus (VF +) en die Congress of the People (COPE) en baie ander partye is sterk gekant teen onteiening van grond sonder vergoeding. COPE en AfriForum het sedertdien 'n vennootskap tot stand gebring in hul teenkanting teen die omstrede beleid.[7][8]
Ekonomiese groei
Die ANC het aangekondig dat dit ekonomiese groei en werkloosheid vermindering die party se hoofveldtog vraagstukke sal maak tydens die verkiesing.[9] 'n Besondere fokus vir die ANC was op jeugwerkloosheid[10], met 'n belofte om 275 000 nuwe werksgeleenthede per jaar vir die volgende vyf jaar te skep en R1,2 biljoen in beleggings te lok.[4] Ander partye het ook gefokus op werkskepping met die DA wat ekonomiese hervormings belowe om groei aan te moedig en die groei van klein ondernemings te bevorder. Die DA-leier Mmusi Maimane het gepleit vir 'n werk in elke huishouding, terwyl die EFF spesiale ekonomiese sones beloof het om buitelandse beleggings te lok.[3][11]
Misdaad
'n Aantal partye het veldtogte gevoer oor die kwessie van misdaad en hoe om dit te hanteer. Die ANC het belowe om die polisiemag te versterk deur beter opleiding en werwing van meer beamptes terwyl hulle ook fokus op die hantering van geslagsgebaseerde geweld.[12] Die DA het gepleit vir die skepping en versterking van plaaslike vlak polisiemagte in plaas van bestaande regeringsbeleid wat op die nasionale vlak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens fokus.[13] Die EFF belowe harder vonnise vir oortreders en om die polisiemag betekenisvol uit te brei.[14] Die Inkatha Vryheidsparty (IVP)[15], die African Covenant[16] en die African Transformation Movement (ATM)[17] beywer hulle vir die terugbring van die doodstraf.
Elektrisiteitskrisis
Beurtkrag en elektrisiteitsonderbrekings veroorsaak deur langdurige en voortdurende probleme as gevolg van wanbestuur en korrupsie by die staatsbeheerde Eskom was 'n verkiesingsvraagstuk wat die DA teen die gevestigde ANC aangevoer het. Mmusi Maimane en die DA se Wes-Kaapse premierkandidaat, Alan Winde, het die Wes-Kaap aangespoor om sy elektrisiteitsvoorsiening van onafhanklike kragprodusente (IPP's) te verkry. ANC-president Cyril Ramaphosa het gesê dat Suid-Afrika die elektrisiteitskrisis sal oorkom.[18][19][20]
Afloop van stemming
Internasionale spesiale stemme
Kiesers in die buiteland het op 27 April 2019 hul stemme uitgebring.[21] 29 334 Suid-Afrikaners was geregistreer om in die buiteland te stem.[22] Die oorsese stembriewe is op 8 Mei 2019 saam met die plaaslike stemme getel.[23][24]
Spesiale stemme
Die plaaslike spesiale stemfase van die verkiesing het plaasgevind vanaf 6-7 Mei 2019, waartydens Suid-Afrikaners wat fisies ongesteld, gestremd of swanger is, of nie by hul stemlokaal kon stem op stemdag nie, kon vooraf stem.[25] Die registrasie vir spesiale stemme het plaasgevind vanaf 4-18 April 2019.[26] Meer as 770 000 kiesers het vir spesiale stemme geregistreer.[27] Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu en sy vrou Leah het hul spesiale stemme op 6 Mei uitgebring.[28][29]
Stemdag
Die stemproses het relatief glad verloop by 22 925 stemlokale in Suid-Afrika. Lokale het om 7:00 oopgemaak. Teen 11:30 het die OVK aangekondig dat 17 stemlokale nie oopgemaak het nie, waarvan 14 in die KwaZulu-Natal geleë was. Altesaam 5 stemlokale het nie op stemdag gefunksioneer nie. Die Kommissie het voortgesette gemeenskapsonrus vir die situasie verantwoordelik gehou. Stemlokale het om 21:00 gesluit waarna die tellery van stemme begin het.[30][31][32][33]
Insidente
Negentien mense is in drie KwaZulu-Natalse munisipaliteite in hegtenis geneem weens beweerde dubbel stemmery.[34] 'n Bejaarde persoon het op stemdag gesterf terwyl sy wou stem. 'n Oos-Kaapse adjunk-verkiesingsamptenaar het ook gesterf.[35]